Oupa moet lank sit ná verkragting
2011-04-19 08:46
Kroonstad - ’n Oupa van Viljoenskroon is in die streekhof op Kroonstad lewenslange tronkstraf opgelê omdat hy sy negejarige kleindogter verkrag het.
Die staat het in sy betoog ter strafverswaring fel kritiek uitgespreek teenoor dié man (48) omdat hy sy kleindogter se verstandelike vermoë op ’n kil wyse onder twyfel getrek het net om sy onskuld te probeer staaf.
Dié oupa het die verkragting ontken en gesê die kleindogter is “geestelik gestrem”.
Streeklanddros Hendrik Jonker het in sy uitspraak gesê die man het dié uitlating oor haar verstandelike vermoëns gemaak om sodoende haar bewering van verkragting “af te water”.
Die verkragting het op 22 Oktober verlede jaar in die oupa se huis op ’n bed plaasgevind, maar hy het volgehou dat hy die kind daardie aand “glad nie in sy huis gesien het nie”.
Rakesh Chitradow, staatsaanklaer, het voordat streeklanddros Jonker die oupa lewenslank uit die samelewing verwyder het, ’n hartseerprentjie in die hof geskets oor die trauma wat die jong meisie aan die hand van haar oupa deurgemaak het.
Sy het ná die verkragting in die middel van die nag rustig verder geslaap en die volgende dag daaroor geswyg.
Chitradow het hierop gesê: “In haar klein breintjie is dít haar veiligheid – om te maak asof niks gebeur het nie.”
Die slagoffer het saam met haar tante aan moederskant en dié se eenjarige kind by haar oupa (aan moederskant) se huis op Viljoenskroon oornag.
Die kind het gedurende die nag wakker geword toe sy ’n “groot hand” op haar gevoel het. Sy is toe verkrag. Die kind het eers twee dae later ’n onderwyseres van die verkragting vertel.
Die oupa het in sy ontkennende getuienis toegegee die kind is waarskynlik verkrag, maar nie deur hom nie.
Wikus Stoffberg van die Regshulpraad van Suid-Afrika, vir die oupa, het ter verdediging benadruk die kind was ’n “onbetroubare enkelgetuie”.
Haar getuienis is ongeloofwaardig, omdat sy “stadig” is en ’n oneerlike kind is – die oneerlikheid “kom oor ’n lang tyd”, het Stoffberg gesê.
Stoffberg het in sy betoog voor uitspraak gesê daar is geen DNS of getuies wat die klaagster se beweringe kan staaf nie.
Stoffberg het betoog die oupa moet die voordeel van die twyfel kry en vrygespreek word.
Chitradow het gesê geen rede bestaan hoekom die kind haar oupa valslik sou beskuldig nie.
Die kind is wel stout, maar nie “geestelik gestrem” nie.
Ao. L.W. Magadlela en ao. Sello Makallane van die Viljoenskroonse polisie se afdeling teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele oortredings was die ondersoekbeamptes.
- Volksblad