Oupa erken hy het kleindogters mishandel
2012-01-11 18:37
Johannesburg – ‘n Agt-en-vyftig-jarige sakeman en oupa het Woensdag skuldig gepleit op twee aanklagte van seksuele aanranding in die Humansdorp-landdroshof, het die polisie in die Oos-Kaap gesê.
“Volgens polisie-inligting het die man sy twee kleindogters, onderskeidelik vier en sewe jaar oud, seksueel mishandel,” het lt. kol. Priscilla Naidu gesê.
Volgens haar het die kinders in die huis langs hul oupa s’n in Humansdorp gewoon toe die mishandeling plaasgevind het.
“Die kinders het kort voor Kersfees hul ma van die mishandeling vertel. Die man is Maandag in hegtenis geneem. Hy het vandag [Woensdag] met sy tweede verskyning skuldig gepleit. Hy is op borgtog van R5 000 vrygelaat.”
Die kinders bly in die toesig van hul ouers. Die borgvoorwaardes dui aan dat die oupa nie in die Humansdorp-gebied toegelaat word nie.
Die saak is tot 2 Maart uitgestel vir vonnisoplegging, het Naidu gesê.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA