Oupa, 7 kinders verkool
2011-05-30 06:59
Upington - Sewe kinders, van wie die jongste drie jaar oud was, en hul bejaarde oupa het grusaam in ’n vlammehel verkool toe ’n siedende brand die plakkershuis verwoes het waarin hulle gelê en slaap het.
Hul lyke, onherkenbaar verbrand, het nog gelê waar hulle geslaap het toe polisielede Vrydagaand by die huis in die Newhaven-plakkerskamp in Paballelo opgedaag het.
Al agt is onherkenbaar verbrand. Die brand is vermoedelik deur ’n kers veroorsaak.
Bure het besef die huis brand nadat hulle die kinders gehoor gil het. Hulle het probeer om Jan Abrahams (71) en die kinders uit die huis te red, maar die vlamme was toe reeds te erg om die huis binne te kan gaan.
Die kinders, almal neefs en niggies van mekaar, het die naweek by hul oupa gekuier.
Andy-Lee Abrahams (3), Rhuline Abrahams (10), Andriana Abrahams (10), Shanon Abrahams (10), Joandrey Abrahams (10), Jonathan Lee Abrahams (7) en JJ (Junior) Abrahams (4) was almal van Louisvaleweg.
Josef Isaks, hoof vandie Laerskool Olyvenhoutsdrift in Louisvaleweg en voorsitter van die gemeenskapspolisiëringsforum, het die toneel Saterdag saam met lt.kol Ronel Visagie, bevelvoerder van die polisie in Paballelo, besoek.
Drie van die kinders was in dié skool, wat ’n paar jaar gelede ook in rou gedompel is toe die 11-jarige Elvandré van Wyk, ’n leerling, wreed verkrag en vermoor is.
Visagie het aan Volksblad gesê die bure wat probeer help het, is erg deur die voorval getraumatiseer. Visagie was ook Vrydagaand op die toneel.
Magdalena Abrahams, die eienaar van die huis, het by familie in Louisvaleweg gekuier toe die voorval gebeur het. Terwyl vriende en familielede haar ondersteun het, het ’n bewoë Abrahams nie Sondag kans gesien om met Volksblad oor die voorval te praat nie.
Mnr. Abrahams was haar pa.
Saterdag het rook nog uit meubels en die bed waarin van die kinders geslaap het, gedwarrel en vlamme het elke nou en dan nog opgeslaan. Alles in die huis is verwoes.
Mnr. Abrahams het op die grond geslaap.
Lt.kol. Blackie Swart, woordvoerder van die polisie in die Noord-Kaap, sê die brand het omstreeks 21:00 ontstaan.
Die brandweer was vinnig op die toneel en het die brand geblus, maar was te laat om die kinders te red.
Lede van die polisie se forensiese eenheid in Pretoria het die huis gister besoek om die oorsaak van die brand vas te stel.
Die voorval word ook deur die speurdiens in Paballelo ondersoek.
Zelna Mjila, uittredende uitvoerende burgemeester van Siyanda, het die familie Saterdag besoek om te simpatiseer.
Visagie het haar skok oor die voorval uitgespreek en namens die polisie in Paballelo en die provinsiale bestuur van die polisie met die familie gesimpatiseer.
- Volksblad