Ouma vas ná sy glo kleuter (2) vermoor
2010-11-13 05:35
Polokwane – ‘n Vrou van Limpopo wat daarvan aangekla is dat sy haar tweejarige kleinseun doodgebrand het oor inkopie-geld, sal Dinsdag in die Sekhukhune landdroshof verskyn.
Velani Moloyi, 62, word daarvan aangekla dat sy haar kleinkinders se kamer op 6 November aan die brand gesteek het. Haar twee ouer kleinkinders van 25 en ses het oorleef, maar die kleuter het gesterf.
Moloyi het glo gesê sy was kwaad dat die kinders se pa vroeër in die week inkopie-geld aan die oudste kleinkind gegee het, eerder as aan haar.
“Hulle pa het twee vroue gehad en het in ‘n ander huis gewoon,” het polisie-woordvoerder konst. Tebele Kgofelo Vrydag gesê.
Hy het bygevoeg dat die polisie uitgeroep is om in te tree toe die ouma en die oudste kleinkind, Ntabiseng Moloyi, 25, op 3 November oor die geld baklei het.
“Nadat ons met hulle gepraat het, het sy uiteindelik gekalmeer. Ons het gedink dit is verby en ons het gegaan,” het hy gesê.
Kamer brand
Ntabiseng het die res an die week by ‘n tante gebly en toe op 6 November teruggekeer, net om te vind dat haar ouma steeds kwaad was vir haar.
Sy het om middernag wakker geword en gevind dat hul kamer aan die brand was.
“Ntabiseng kon die brand blus en het gegaan om haar pa te roep,” het Kgofelo gesê.
Toe sy en haar pa teruggekeer het na die kamer was dit weer aan die brand. Die sesjarige kind was buite, terwyl die kleuter steeds binne die kamer was.
Die brand was te warm vir enigiemand om te probeer om die kind te red en hy het doodgebrand.
In die tussentyd het Moloyi verdwyn. Sy is in hegtenis geneem nadat sy Sondag by ‘n vriend gevind is.
Sy is nog in aanhouding.
Volg Nuus24 op Twitter
- African Eye