Oues kry skaars R1 van hul pensioen
2012-02-18 10:00
Janice Keogh en Nicolize van der Walt
Johannesburg – “R1. Wat moet ek met R1 doen?”
Só vra Charles Müller (80) van Springs hande in die lug oor sy Transnet-pensioen. Ná aftrekkings deur Transnet se siekefonds bly daar R1 van sy maandelikse pensioen oor.
Maar hy is nie die enigste een nie.
Rudie Fouché (76) van Klerksdorp het ook net R1 oor nadat die siekefondspremie van sy pensioen van R4 269,50 afgetrek is.
Volgens Willie Spies, regsverteenwoordiger van AfriForum, is die meeste Transnet-pensioentrekkers wit en is daar baie bejaardes wat selfs slegter daaraan toe is as Müller en Fouché. “Hulle kan nie bekostig om in tehuise te bly nie, dus trek hulle by hul kinders in of woon in motorhuise. Dié wat te trots is om hulp te vra, gaan woon in plakkerskampe.”
Daar was al gevalle waar pensioentrekkers selfmoord gepleeg het, het hy gesê.
Volgens Spies is dit lede van Transnet se tweedevastevoordeel-pensioenfonds wat swaarkry.
Net Transnet-werknemers wat voor 2000 afgetree het, is lid van dié fonds. Hul pensioene het voorheen teen dieselfde koers as inflasie gestyg, maar sedert 2003 styg dit jaarliks met net 2%, terwyl inflasie aanhou styg.
In dié stadium sterf sowat 400 Transnet-pensioentrekkers per maand.
Fouché het 36 jaar lank op die destydse Spoorweë gewerk – eers as skrynwerker en later as ’n toesighouer.
Hy het gedink hy het voldoende voorsiening gemaak vir sy aftrede, maar moet nou steeds werk om die pot aan die kook te hou.
“Ek het geglo my voorsiening was genoeg.
“Ons beleggingsinkomste is ook min, want die rentekoerse is laag,” het Fouché gesê.
“Dít is my héle pensioen,” het Müller gesê terwyl hy na die ses bokse pille op sy skoot wys. Hy het nege hartvatoperasies ondergaan en sonder dié medisyne sal hy “almal maar moet groet”.
Die siekefonds trek R1 936,95 van sy pensioen van R1 937,95 af.
Volgens Spies het die Transnet-pensioentrekkers se mediese premies volgens die mediese inflasiekoers met tussen 18% en 25% per jaar gestyg, terwyl hul pensioen met net 2% gestyg het.
Müller se vrou, Anné (64), se pensioen hou hulle aan die lewe. Dit sorg ook vir hul seun, wat onlangs ’n skeidingspakket gekry het en sukkel om weer werk te kry.
Mboniso Sigonyela, Transnet se woordvoerder, het nie by navraag oor die twee gevalle kommentaar gelewer nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld