Ouers, kinders deursoek by nuwe skool
2012-01-18 12:00
Johannesburg – Ouers en leerders is Woensdagoggend deursoek soos wat hulle deur die hekke van die nuutgeboude Itirele-Zenzele Sekondêre-skool in Diepsloot beweeg het.
Die 10 gemeenskapslede wat die hekke beman het, het teen omstreeks 07:30 reeds sowat 300 mense vir wapens, dwelms en enigiets anders wat die eerste skooldag kan ontwrig, deursoek.
Die skool se nuwe perseel sou amptelik om 10:00 deur die Gautengse premier, Nomvula Mokonyane, en die LUR vir onderwys, Barbara Creecy en ander amptenare geopen word.
Hulle sal na verwagting gesprekke hou met gemeenskapslede oor opvoedingsdienste en diensleweringsprobleme.
Die skool was oorspronklik sowat vyf kilometer suid van Diepsloot in ‘n bosagtige gebied naby die luukse Dainfern-behuisingskompleks geleë.
Die nuwe perseel is verlede jaar in Diepsloot gebou.
Thembi Nkuna, ‘n graad 11 leerder, sê sy is opgewonde om haar eerste dag van skool te begin.
“Hierdie skool lyk baie beter as die een waarin ons verlede jaar was, want ons het nie behoorlike toilette gehad nie en daar was baie ander toestande wat nie gunstig was vir ‘n suksesvolle leeromgewing nie.
Jan Mokoena (17), wat vanjaar in gr. 9 is, het gesê hy het verlede jaar gesukkel om by die skool uit te kom.
“Ek is bly om my skooljaar hier te begin. Hierdie een is nader aan die biblioteek (sowat 200 m). Ek wil dankie sê aan die regering dat hulle hierdie skool vir ons gebou het, want dit was vir ons moeilik om by daardie een (naby Dainfern) uit te kom.
“Ek het soms nie genoeg tyd gekry om te studeer nie en soms was ek selfs laat vir skool as gevolg van die swaar verkeer op die R511-pad,” het Mokoena gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA