Ouers 'ken meisie se ontvoerder'
2011-06-07 07:01
Bellville - Die ouers van die kleuter wat glo Vrydag hier in die Middestad-winkelsentrum ontvoer is, ken na bewering hul kind se ontvoerder.
Motorwagte wat saam met Chanté Christoffels (3) se ouers by die parkeerterrein in Bellville werk, het gister aan Die Burger gesê die ouerpaar, Landy Christoffels (36) en Cedrick Julisen (53), het glo gereeld met die vrou, slegs bekend as “Straatloper”, by die sogenaamde R100-kamers in Parow gedrink.
Chanté is glo Vrydagmiddag ontvoer terwyl haar ouers motors in die parkeergebied van die winkelsentrum opgepas het. Albei ouers woon in Blikkiesdorp, Delft.
Christoffels en Julisen is gister met nog motorwagte deur speurders van die Bellville-polisie vir ondervraging ingeneem. Die ouers en die ander motorwagte, onder wie hul vriende, slegs bekend as Karen en Deon, is laat gaan.
’n Bron in die polisie het Maandag aan Die Burger gesê alles is nie pluis nie. Op kringtelevisiebeelde is dit volgens die bron duidelik te sien hoe die ma, die meisie en die vrou wat haar na bewering ontvoer het, in die sentrum loop.
Die bron beweer die ma se verklarings sedert Vrydag is almal teenstrydig. In een verklaring het sy glo gesê hulle ken die vrou net van sien. In ’n latere verklaring beskuldig sy die pa dat hy met die vrou ’n “ding” aangehad het.
Werkers by die R100-kamers het teenoor Die Burger ontken dat hulle al ooit vir “Straatloper” gesien of dat sy al voorheen daar oornag het.
’n Ander werker wat gevra het om anoniem te bly, het egter gesê “Straatloper” was al voorheen daar. Sy is glo ook Vrydag in die nabye omgewing gesien.
’n Polisie-identikit van die verdagte is teen die muur van die R100-kamers se ingangsportaal opgeplak.
Kapt. Frederick van Wyk, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, het Maandag gesê die soektog na Chanté duur voort. Niemand is nog in verband met die misdaad in hegtenis geneem nie.
“Die motief vir die ontvoering is in hierdie stadium onbekend, maar dit word ondersoek.”
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger