Ouers is vermoor 'weens liefde vir God'
2011-10-26 09:01
Durban – Sy het haar ma met ’n mes doodgesteek om haar liefde en gehoorsaamheid aan God te betoon.
Só sê Nicolette Lotter in ’n verklaring wat vandeesweek met die aanvang van die verhoor weens die dubbele moord op haar ouers, Johnny (53) en Riekie Lotter (52), as bewysstuk in die Durbanse hooggeregshof ingedien is.
Me. Lotter (29) word saam met haar broer, Hardus (23), en destydse kêrel, Mathew Naidoo (25), van die moorde aangekla. Al drie ontken skuld.
In haar verklaring sê sy ook dat Naidoo haar broer beveel het om sy pa op sy eie te verwurg “en daarna saam met God te gaan (selfmoord te pleeg)”.
Me. Lotter skets ook die grusame en skokkende verloop van gebeure die aand van 19 Julie 2008 in die gesin se huis in Westville.
Me. Lotter sê haar ma is met ’n Tazer geskok voordat hulle lugborrels in haar are probeer spuit het om haar dood te veroorsaak. Ook pogings om haar met ’n plastieksak te versmoor het misluk.
Nadat ’n paniekbevange me. Lotter luidens haar verklaring vir Naidoo by ’n winkelsentrum gaan haal het, het hy vir haar gesê sy moet haar ma met ’n mes in die bors en nek doodsteek.
Naidoo het hom luidens me. Lotter se verklaring die derde seun van God genoem en dat God deur hom praat.
Volgens me. Lotter se verklaring was dit Naidoo wat twee maande voor die moorde gesê het haar ouers moet doodgemaak word omdat haar pa tot Satan bid.
Me. Lotter sê in haar verklaring sy was huiwerig om haar ma dood te steek en het vir Naidoo gesê sy sal dit net doen as God dit beveel en dit Sy wil is.
“Toe sê Mathew ek moet in my verwarde hart kyk en ek sê toe: ‘Ja, in my hart is dit God se wil.’”
Luidens die verklarings het me. Lotter en Naidoo vroeër hieroor gepraat en sê sy volgens die Bybel kan jy nie die koninkryk van God binnegaan as jy jou ouers liewer as God het nie.
Haar broer was die dag voor die moorde ook onwillig om aan die plan deel te neem, maar luidens me. Lotter se verklaring het sy en Naidoo hom die koue skouer gegee totdat hy ingestem het.
“Ons het nie haat in ons harte vir ons ouers gehad nie. Ons het dit gedoen, want Mathew het gesê ons moet en ons het hom geglo as die derde seun van God,” lui die verklaring.
Volgens Naidoo het hy niks van die moordplanne geweet nie en het me. Lotter en haar broer baie met hul ouers vasgesit.
Die staat voer egter aan die egpaar is vermoor sodat hulle twee kinders kon erf.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad