Ouers bekommerd oor kinders by skool
2010-08-20 09:21
Johan Brits en Marisa Phillips
Volksblad
Jaco Nel, pa van ’n gr. 4-leerling van die Laerskool H.F. Verwoerd op Parys, was Donderdag een van die ouers wat by die skool opgedaag het toe dit soos ’n veldbrand versprei het dat “onrus” by dié skool uitgebreek het.
“Van die kinders is baie getraumatiseer. Die gr. 1 tot 3’s was besig met saalopening toe die stakende onderwysers daar opgedaag het. Die onderwysers (aan H.F. Verwoerd) het die kinders toe vir hul eie veiligheid in die saal toegesluit,” vertel Nel.
Die betogende onderwysers van skole in die woongebied Tumahole, het glo ondanks “hekwagte” (onderwysers) vermoedelik by ’n motorhek ingeglip.
Die spanningsvolle, dog vreedsame optog, waartydens struggle-liedjies gesing is, het ongeveer ’n uur lank geduur.
Die beheerraad het besluit om dié skool Vrydag te sluit.
“Dít (die staking) is nie reg nie. Weens die staking word ons kinders onderrig weerhou.”
Sers. Pumzile Makaula, woordvoerder van die polisie op Parys, het dié voorval sowel as die ontwrigting by die twee ander skole bevestig.
Sy sê nadat die oproerige leerkragte by die Laerskool H.F. Verwoerd weg is, is hulle na ’n skool in die woongebied Schonkenville waar hulle werkende onderwysers gedwing het om hul plig te versaak.
Dieselfde het by die Hoërskool Boitlamo gebeur, sê Makaula.
Een van die stakende onderwysers is tydens die optog lig beseer toe dié geval het.
Voorts was die optogte vreedsaam sonder dat enig-iemand ernstig beseer of in hegtenis geneem is, sê Makaula.
Volgens Howard Ndaba, woordvoerder van die Vrystaatse departement van onderwys, het minstens 9 000 onderwysers Woensdag gestaak.
- Volksblad