Ouditeurs aangesê om korrupsie toe te smeer
2012-07-29 14:46
Johannesburg – Ouditeurs wat munispaliteite se geldsake nagaan, is geïntimideer en aangesê om bewyse van korrupsie toe te smeer, het die Vereniging van Interne Ouditeurs aan die Sunday Independent gesê.
"In sommige gevalle is ouditeurs beveel om sekere goed 'onder die mat te vee'," het Claudelle von Eck, hoof- uitvoerende beampte van die vereniging, gesê.
"Dit is kommerwekkend, want interne ouditeurs behoort die fluitjieblasers te wees."
Sy het gesê sommige lede het intimidasie aangemeld, maar die vereniging kan nie inmeng nie.
Terence Nombembe, ouditeur-generaal (OG), het verlede Maandag in sy verslag oor die 283 munisipaliteite gesê slegs 5% van munisipaliteite het in die 2011/2012-boekjaar skoon ouditverslae gekry het.
Nombembe het gesê hy is opgewonde dat dié getal ses nuwe munisipaliteite insluit.
Die munisipaliteite met skoon ouditverslae is in KwaZulu-Natal, Limpopo, Mpumalanga en die Wes-Kaap.
Nie een van die munisipaliteite in die Oos-Kaap, Vrystaat, Gauteng, die Noord-Kaap en die Noordwes het skoon ouditverslae gekry nie.
Daar is tans 343 munisipaliteite in die land.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA