JHB-rekeninge na ouditeur-generaal gestuur
2012-09-09 16:58
Johannesburg – Meer as 3 000 Johannesburgse rekeningnavrae wat die Gautengse burgemeesterskomitee vir finansies verlede week geweier het om te aanvaar, sal na die ouditeur-generaal (OG) aangestuur word, het die DA Sondag gesê.
Patrick Atkinson, DA-raadslid en -woordvoerder oor munisipale finansies, het gesê die party sal ondersteunende dokumente aan die span beskikbaar stel wat die stad se sake oudit.
"Die rekeningkrisis en verkeerde finansiële data wat deur [die stad Johannesburg] verskaf is, is die oorsaak van Johannesburg se onvermoë om die laaste twee jaar 'n ongekwalifiseerde oudit te kry," het Atkinson gesê.
Die stad vaar die swakste van Suid-Afrika se nege metrogebiede in terme van die akkuraatheid en betroubaarheid van sy finansiële data, het hy gesê.
Die DA het Woensdag probeer om die onopgeloste rekeningnavrae aan die komitee te oorhandig, maar raadslid Geoffrey Makhubo het geweier om die dokumente te aanvaar.
Sy woordvoerder, Zoleka Zide, het gesê die stad het 'n kontrakooreenkoms met sy kliënte, en dat die DA nie navrae namens hulle kan hanteer nie. Zide het gesê die stad sal nie voorkeurbehandeling aan enige persoon of politieke party gee nie.
Atkinson het gesê die kliënte het al verskeie kere op hul eie probeer om die probleme op te los, maar was nie suksesvol nie.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA