Oud-polisiehoë skuldig aan bedrog
2011-07-09 18:06
Johannesburg – Die voormalige hoof van die Krugersdorp-familiegeweld, -kinderbeskerming en seksuele misdade-eenheid, Amos Maswanganye, 50, het skuldig gepleit op 'n aanklag van bedrog, het Beeld Saterdag berig.
Maswanganye het Vrydag in die Krugersdorp-streekshof verskyn, en is 'n boete opgelê van R20 000 en/of drie jaar tronkstraf.
Nog 'n vonnis van vyf jaar is vir vyf jaar opgeskort op voorwaarde dat Maswanganye nie in daardie tydperk 'n soortgelyke oortreding begaan nie.
Maswanganye, 'n getroude man en pa van vyf, is in Januarie 2010 in hegtenis geneem op aanklagte van korrupsie, bedrog en dwarsboming van die gereg ná hy op 'n kontanttjek van R5 000 aangedring het van 'n familielid van 'n verdagte in 'n saak van onsedelike aanranding.
Hy het die tjek die volgende dag gewissel met die wete dat die saak reeds teruggetrek is.
Die vrou wat deur Maswanganye uitgebuit is het aan die hof gesê dat sy sy aanbod om haar terug te betaal, aanvaar het. Maswanganye moet sy boete van R20 000 en die R5 000 aan die vrou voor 31 Augustus betaal.
Die voormalige luitenant-kolonel, met 24 jaar diens, is uit die polisie geskors.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA