Oud-onnie sit lank ná huurmoord op man
2011-12-07 12:20
Pretoria – 'n Voormalige skoolonderwysers is 25 jaar tronkstraf opgelê nadat sy vyf mans gehuur het om haar man dood te maak, het die polisie in Mpumalanga Woensdag gesê.
Die hof het Adelaide Hlongwane (46) Dinsdag gevonnis, het lt.kol. Leonard Hlathi gesê.
"Sy het vyf mans gehuur om haar man, Solomon Hlongwane, in Desember 2007 te vermoor."
Solomon se lyk is buite sy winkel in Doornkop naby Middelburg gevind.
"Hy is erg aangerand voor sy tong uitgeruk is," het Hlathi gesê.
Die motief vir die misdaad is nie bekend nie.
Adelaide se vyf medebeskuldigdes, wat ook Dinsdag gevonnis is, is 'n week ná die lyk gevind is, in hegtenis geneem.
Drie van die mans is 30 jaar tronkstraf opgelê. Hulle is Samuel Madimetsa, Stanley Magoba en Adelaide se Malawiese kêrel, Abdul Khandazi.
Abram Shongwe en Michael Mohlala is onderskeidelik agt en twee jaar tronk toe gestuur vir hul aandeel in die moord.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA