Saru geskok oor skietdood van oud-Springbok
2011-11-13 20:04
Kaapstad – Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie het sy skok uitgespreek nadat die voormalige Springbok-losvoorspeler Solly Tyibilika doodgeskiet is.
Tyibilika is luidens berigte by ‘n taverne in Kaapstad doodgeskiet.
‘n Woordvoerder van die Wes-Kaapse polisie het gesê twee gewapende mans het by ‘n taverne ingestap en na willekeur begin skiet.
“Twee klante is gewond en een van hulle, in sy vroeë 30’s, is op die toneel dood,” het hy gesê.
Oregon Hoskins, president van Saru, het gesê Tyibilika “was ‘n baanbreker onder swart Springbokke en... om hom so skielik en op hierdie brutale wyse te verloor, is baie ontstellend”.
“Die onverskillige minagting vir lewe in ons land is skokkend,” het hy bygevoeg.
“Sy opgang was ‘n demonstrasie van wat bereik kan word wanneer talent met geleentheid gekombineer word in wat altyd ‘n baie mededingende posisie in Springbok-rugby is. Ek onthou ‘n baie talentvolle speler en ‘n aangename mens wat vinnig opgang gemaak het om vroeg in sy loopbaan ‘n Springbok te word.”
Vroeër het Kuanda Ntunja, Xhosa-rugbykommentator by Supersport, op die sosiale netwerk Twitter gesê Tyibilika is vermoor.
“Ek het pas die skokkende nuus gehoor. Ek is pas vertel dat hy geskiet en vermoor is in Kaapstad. R.I.P. Solly Tyibilika.”
Ntunja het Sondagmiddag getwiet: “Makhaya Jack (voormalige Saru-speler) het pas van Solly se huis in PE gekom en hy het bevestig... Solly Tyibilika is dood.”
Craig Ray, senior rugbyskrywer vir die Times- en die Weekender-koerant, het op Twitter gesê ‘n polisiewoordvoerder het Tyibilika se dood aan hom bevestig.
“Nyanga-polisiewoordvoerder bevestig dood van Solly Tyibilika, maar sê voorval het in Gugulethu gebeur.”
Tyibilika (32) het agt toetse vir die Springbokke gespeel tussen 2004 en 2006. Hy het provinsiale rugby vir Griekwas, die Sharks, die Goue Leeus, die Southern Kings en Grens gespeel.
- Volg Nuus24 op Twitter