Oud-Lotto-werknemer in hof oor diefstal
2011-06-08 14:54
Johannesburg – 'n Voormalige werknemer van die Nasionale Lotery-operateur, Gidani, het Dinsdag in die hof verskyn op aanklag van bedrog en diefstal nadat sy glo die maatskappy se kleinkasgeld gesteel het, berig The Star.
Tamara Joseph (32) het om borgtog aansoek gedoen in die Midrand-landdroshof.
Sy is in hegtenis geneem nadat sy glo R754 000 van Gidani se geld gesteel en na verskeie rekeninge onder haar naam oorgeplaas het.
Joseph het glo die geld gebruik om 'n huis te bou, maar die polisie sê die saak word nog ondersoek.
Sy is op borgtog van R5 000 vrygelaat. Die saak is tot volgende maand uitgestel.
Joseph was Gidani se finansiële beheerder.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA