Oud-Bok-skrumskakel sterf onverwags
2011-02-14 07:04
Potchefstroom – Die bekende oud-Springbokskrumskakel Dirk de Vos (69) is Saterdag in sy huis in Potchefstroom dood, waarskynlik aan ’n hartaanval.
.“Hy was Vrydag by ’n samekoms van oud-Springbokke in Hennenman. Hy het by die huis gekom en later in die kamer gaan lê. Ek het hom daar dood aangetref,’’ het Amanda de Vos gesê.
Die egpaar was byna 45 jaar getroud. Hulle het die afgelope 32 jaar in Potchefstroom gewoon.
De Vos, wat vir verskeie provinsiale spanne, waaronder Noord-Transvaal, Westelike Provinsie, Wes-Transvaal, Transvaal en die Vrystaat as skrumskakel uitgedraf het, was nie ’n hartlyer nie.
“Dit is wat die skok soveel groter maak. Hy was nog baie aktief. Hy was steeds by Hoër Volkskool betrokke en het as stokperdjie ’n klein rugbywinkeltjie bedryf,’’ het mev. De Vos gesê.
Tot en met sy dood was hy ’n groot sport- en rugbygeesdriftige. Rugby het ’n baie sagte plek in sy hart gehad. Hy het nie ’n spesifieke rugbyspan ondersteun nie. “Ons het altyd gespot en gesê hy is ’n draadsitter.”
De Vos was lid van die 1971 rebelle-toer in Australië. Tydens die toer is ’n noodtoestand in daar afgekondig vir vier uit die ses weke van die toer se duur. Van die Australiërs het teen apartheid betoog en 700 mense is in hegtenis geneem vir hul deelname aan onwettige betogings. Suid-Afrika het die reeks 3-0 gewen.
Sy broer, Hennie, is in 2008 op 58-jarige ouderdom aan ’n hartaanval dood. Hennie het vir die WP en die Suidelike Universiteite skrumskakel gespeel. Hy was ’n sielkunde-dosent aan die Universiteit Stellenbosch.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger