Oud-Bok Venter in Facebook-visier oor Absa
2010-09-27 06:44
Johannesburg - Ondersteuners van die Facebook-groep Stop ABSA kwotas/quotas het die naweek te velde getrek teen die oud-Springbokspeler André Venter, wat dié veldtog “ondeurdag” genoem het.
AfriForum het op 17 September met ’n veldtog teen Absa begin nadat dié bankgroep amptelik by die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (SARU) aangedring het dat meer swart spelers in die Curriebeker-reeks moet speel.
“Die Absa-SMS praat van transformasie,” is een van Venter se opmerkings op die blad.
Volgens hom is daar is “’n reuse-verskil tussen transformasie en kwotas” en sweep AfriForum mense op met uitlatings oor kwotas en minder wit spelers.
Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het borge in Venter se speeldae nie rassevoorskrifte gestel nie en het die flank die Springbokspan na meriete gehaal.
“Deur dié Absa-voorskrifte te aanvaar, gun Venter jong rugbyspelers nie dieselfde geleenthede om soos hy die hoogste sport te behaal nie.
“Sou hy nog dié standpunt hê as hy die slagoffer van Absa se voorskrifte was?” wou Kriel weet.
Die Facebook-groep se getal ondersteuners het teen gistermiddag tot 9 122 gegroei.
“Een ligpunt van Venter se kritiek is dat dit mense aanpor om ons groep te besoek en die veldtog te steun,” het Kriel gesê.
Hy het bygevoeg die veldtog teen Absa gaan volstoom voort.
Ondanks die versekering later dat die bankgroep nie ’n kwotastelsel in rugby ondersteun nie, het die Solidariteit-beweging Woensdag in ’n ope brief aan Absa ’n ultimatum gestel dat die vakbond sy rekeninge by die bank gaan sluit en sy lede gaan aanmoedig om dieselfde te doen as Absa nie om verskoning vra en onderneem om nie weer op politieke vlak by sport in te meng nie.
Hulle dring ook aan op ’n proses van oorlegpleging met die Solidariteit-beweging, sodat ander knelpunte, soos die posisie van Afrikaans in Absa, bespreek kan word.
Meer as 26 000 mense het teen gistermiddag in SMS’e en op petisievorms hul steun aan die veldtog toegesê.
- Beeld