Ottosdal-moordverhoor uitgestel
2011-06-07 19:56
Johannesburg - Die borgtogaansoek van drie mense wat daarvan verdink word dat hulle ‘n boer in Noordwes vermoor het, is Dinsdag in die landdroshof op Ottosdal uitgestel, het die Nasionale Vervolgingsgesag gesê.
“Dit is tot 28 Julie uitgestel vir verdere ondersoek, asook omdat daar uitstaande verslae van ballistiese- en DNS-resultate is,” het Frank Lesenyego, woordvoerder van die NVG in Noordwes, gesê.
Een van die beskuldigdes, Thabo Matlhoko, word ook daarvan beskuldig dat hy versuim het om sy vorige oortredings aan die polisie te openbaar. Hy sal op 14 Junie in dieselfde hof verskyn vir vonnisoplegging in dié verband.
Matlhoko (25) staan saam met Diphapanang Paul Kwa-Kwa (29) en Shadrack Thapelo Smith (29) tereg op aanklag daarvan dat hulle die boer André van der Merwe op 30 April op sy plaas by Ottosdal vermoor het. Van der Merwe is geskiet en sy lyk is agter ‘n bakkie aangesleep.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA