Oscar 'wou Reeva help' – verdediging
2013-02-19 11:22
Fotogalery - Mediastorm by hof
klik op klein foto bo om groter prentjie te sien
Pretoria – 'n Regsverteenwoordiger van die moordbeskuldigde Oscar Pistorius het aangevoer dat die dood van die atleet se vriendin, Reeva Steenkamp, nie moord was nie.
Die Paralimpiese atleet het in die hof begin huil terwyl sy regsverteenwoordiger ontken het dat die beweerde moord op sy vriendin, Reeva Steenkamp, met voorbedagte rade was.
Adv. Barry Roux, vir Pistorius, het gesê hy sou dink die staat se saak sal wees dat daar probleme in die paartjie se verhouding was.
Hy het gesê Pistorius sal in detail verduidelik wat presies daardie aand gebeur het. Die verdediging het verder gesê die feit dat Pistorius die badkamerdeur afgebreek het, dui daarop dat hy Steenkamp wou help en haar nie wou seermaak nie.
Roux het verder aangevoer dat dit in belang van geregtigheid is dat die saak nie as 'n skedule-ses-misdaad begin nie, omdat daar geen geldige rede daarvoor is nie. Hy het gesê Pistorius is in rou oor Steenkamp se dood.
Die staat kan nie bewys dat Oscar Pistorius geweet het sy vriendin, Reeva Steenkamp, is agter die badkamerdeur toe hy geskiet het nie, het Roux gesê.
Bewyse sal indien nodig ook gebring word van mans wat hul vroue of kinders geskiet het omdat hulle gedink het hulle is inbrekers, het hy tydens Pistorius se borgtogaansoek in die Pretoriase landdroshof gesê.
Roux het gesê hy sal ook bewyse bring van rooftogte en inbrake in veiligheidskomplekse.
Pistorius staan tereg op aanklag van moord ná Steenkamp se skietdood verlede week by sy huis.
'n Betraande Pistorius het toegekyk terwyl Roux die staat se argument van moord met voorbedagte rade teengestaan het.
"Ons voer aan dat dit nie eers moord was nie," het Roux gesê.
"Daar is nie 'n argument nie."
Nel het gesê die staat sal aanvoer dat die moord op Steenkamp met voorbedagte rade gepleeg is.
Nadat Roux sy argument aan die hof voorgelê het, het Nel opgestaan en gesê hy is nou daarvan oortuig dat dit moord met voorbedagte rade was.
Intussen word 'n roudiens in Port Elizabeth vir Steenkamp gehou.
– Volg Nuus24 op Twitter