Oscar 'vra vir Bybel'
2013-02-21 08:14
Johannesburg – Die Paralimpiese atleet Oscar Pistorius het gevra dat 'n Bybel na hom gebring word, het sy oom, Arnold, in 'n onderhoud gesê.
"Carl en Aimee (Pistorius se broer en suster) het gesê hulle sit saam met hom en dat hy veral baie die Bybel lees, soos sy ma hom geleer het," het Arnold Woensdagaand in 'n onderhoud met die eNCA-nuuskanaal gesê.
Volgens Arnold het die ster-atleet eers Dinsdag begin eet.
Pistorius is verlede week in hegtenis geneem nadat sy vriendin, Reeva Steenkamp, in sy huis in Pretoria doodgeskiet is.
Hy is aankla van moord en sy borgtogaansoek is steeds aan die gang in die Pretoriase landdroshof.
Arnold het gesê dit is 'n moeilike tyd vir die familie, maar hulle staan bankvas agter die atleet.
Hy het ook sy kommer uitgespreek oor wat hy as Pistorius se "openbare verhoor" beskryf.
"Die saak gaan aan en jy kan oordeel vir jouself... die waarheid sal seëvier."
Arnold het gesê die Pistorius-familie was in kontak met die Steenkamps, maar respekteer hul verlies en privaatheid.
Op die vraag oor bewerings dat Pistorius 'n geskiedenis van geweld het, het Arnold die atleet as 'n "vredemaker" beskryf.
Pistorius is in erge skok en rou in die "emosioneel moeilike tyd," het sy oom gesê.
"Die wêreld sal 'n ander Oscar sien; niemand kan weer dieselfde wees ná so 'n tragedie nie, maar hy sal weer opstaan en beter as ooit wees."
Steenkamp is Dinsdag tydens 'n private diens in Port Elizabeth veras.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA