Oscar spandeer naweek in selle
2013-02-15 13:35
Fotogalery - Oscar Pistorius verskyn in hof
klik op klein foto bo om groter prentjie te sien
Pretoria – Die moordsaak van Oscar Pistorius is in die Pretoria-landdroshof tot 19 Februarie uitgestel ná 'n emosiebelaaide hofverskyning Vrydag.
Pistorius sal tot met sy verskyning Dinsdag in polisieaanhouding bly in die Brooklyn-polisiestasie.
'n Gespanne en emosionele Pistorius het in die sitting uitgevind die staat sal probeer bewys dat hy 'n voorafbeplande moord gepleeg het. Pistorius het na bewering sy vriendin, Reeva Steenkamp, Donderdag in die vroeë oggendure by sy huis in Pretoria doodgeskiet.
"Is die staat se argument voorafbeplande moord?" het Desmond Nair, hooflanddros, gevra.
"Ja," het Gerrie Nel, die staatsaanklaer, geantwoord.
Die uitstel is gegun om die verdediging 'n geleentheid te gee om voor te berei vir sy borgaansoek. Pistorius word verteenwoordig deur die vooraanstaande advokaat William Booth, wat al een van die berugste bendeleiers in Kaapstad, Rashied Staggie, verteenwoordig het.
Die staat het aangevoer dat die saak 'n skedule 6-misdaad is, maar die verdediging het gesê hy kan nie sien hoekom dít gedoen moet word nie.
In die geval van 'n skedule 6-oortreding moet die beskuldigde uitsonderlike omstandighede verskaf vir borgtog om toegestaan te word.
Terwyl Pistorius uit die beskuldigdebank geloop het, het sy pa aan hom probeer raak. Pistorius het net verbygeloop, sy oë vol trane.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA