Oscar se vriendin glo 'agter deur' geskiet
2013-02-15 08:09
Kaapstad – Die model Reeva Steenkamp was agter ’n badkamerdeur in die sportheld Oscar Pistorius se huis toe hy haar na bewering doodgeskiet het, het die dagblad Beeld Vrydagoggend berig.
'n Inwoner wat nie sy identiteit bekend wou maak nie, het volgens die koerant gesê wagte het Pistorius by Steenkamp se lyk in die badkamer aangetref.
Dié inwoner het ook beweer dat Steenkamp agter 'n badkamerdeur was toe sy doodgeskiet is.
Die dagblad het berig die polisie en veiligheidswagte van die Silver Woods-landgoed, in die ooste van Pretoria, is sowat twee ure voor die skote na sy luukse huis ontbied.
Sy bure het glo gekla oor die geraas wat uit Pistorius se huis gekom het weens ’n beweerde stryery tussen hom en
Steenkamp.
Wagte is om 03:30 weer na die huis ontbied nadat die bure vier skote gehoor het.
Vier koeëls het Steenkamp in die kop, bors, bekken en hand getref.
Die polisie het vroeër bevestig dat daar voorvalle van "huidhoudelike aard" by Pistorius se huis was, maar meer besonderhede oor dié vooorvalle is nie gegee nie.
Pistorius sal na verwagting later Vrydag in die Pretoria-landdroshof verskyn op 'n aanklag van moord. Die staat sal, weens die aard van die oortreding, borgtog teenstaan.
– Lees hier meer.
– Volg Nuus24 op Twitter.