Oscar skiet byna vriend raak in restaurant
2013-02-18 09:03
Johannesburg – Oscar Pistorius het verlede maand per ongeluk 'n skoot in 'n besige restaurant in Melrose Arch in Johannesburg afgevuur en 'n vriend se voet rakelings gemis, het Beeld Maandag berig.
Die koeël het byna die voet van Kevin Lerena, 'n bokser en gemeenskaplike vriend van Pistorius en Reeva Steenkamp, getref.
"Ek het groot geskrik, want die koeël het sentimeters van my voet af in die grond vasgeslaan, maar dit was werklik net 'n fratsongeluk," het Lerena aan die koerant gesê.
Hy het gesê hy het die restaurant met 'n groep vriende, insluitend Pistorius en Steenkamp, besoek.
"Ek moet benadruk dat die pistool aan een van Pistorius se vriende behoort het – ek gaan nie sy naam noem nie. Oscar wou net na die vuurwapen kyk en dit het onverklaarbaar aan sy broek vasgehaak, die veiligheidsknip het losgekom en die skoot is afgetrek. Ek sou nie sê hy was nalatig nie, dit was ’n ongeluk. Hy het vir dae daarna nog jammer gesê,” het Lerena gesê.
Jason Loupis, bestuurder van die restaurant, Tashas, het gesê ’n klag is nooit by die polisie ingedien nie.
By navraag het Loupis gesê: “Ek het ’n slag gehoor en dit toe ondersoek ... Oscar-hulle en almal het dit net ontken.
“Oscar en Reeva was gewoontekliënte en ek het hulle baie gesien. Ek het nie die saak by die polisie aangemeld nie, want hulle het dit almal net ontken.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA