Oscar se regspan tjoepstil oor hofaansoek
2013-02-25 11:40
Johannesburg – Die regspan van die moordbeskuldigde Paralimpiese atleet Oscar Pistorius wou nie Maandag kommentaar lewer oor berigte dat die atleet oorweeg om die Pretoriase hooggeregshof te nader om sy borgtogvoorwaardes te verslap nie.
"Ek kan nie daarop kommentaar lewer nie," het Brian Webber, een van Pistorius se regsverteenwoordigers, gesê.
The Times het Maandag berig dat Pistorius se regspan sy posisie oorweeg om die hof te nader.
"Ek het op die oomblik geen kommentaar daaroor nie. Ons oorweeg nog ons posisie en dit is al wat ek nou kan sê," het adv. Kenny Oldwage aan die koerant gesê.
Hy het nie gesê watter voorwaardes as ongunstig beskou word nie.
Die atleet moet Maandagoggend as deel van sy borgtogvoorwaardes, wat Vrydag deur hooflanddros Desmond Nair uiteengesit is, by die Brooklyn-polisiekantoor aanmeld.
Pistorius moet Maandae en Vrydae by dié polisiekantoor aanmeld.
Die Parlimpiese medaljewenner het sy eerste naweek saam met sy familie deurgebring nadat hy agt dae lank by die Brooklyn-polisiekantoor aangehou is.
Hy is daarvan aangekla dat hy sy vriendin, die model Reeva Steenkamp, op 14 Februarie by sy huis in die ooste van Pretoria vermoor het. Hy het dié aanklag ten sterkste betwis.
Nair het tydens Pistorius se borgtogaansoek beslis dat die atleet nie 'n vlugrisiko is nie en dat die staat nie bewys het dat hy geneigdheid tot geweld het nie.
Pistorius is borgtog van R1 miljoen toegestaan. Hy kon 'n aanvanklike betaling van R100 000 maak en die res van die bedrag moet teen 1 Maart betaal wees.
Die voorwaardes van sy borgtog sluit in dat Pistorius nie aangekla word van enige oortreding wat verband hou met geweld teen vroue nie; nie na sy huis by die Silver Woods-landgoed terugkeer nie; nie aansoek doen om reisdokumente nie; en geen verbode middels of alkohol neem nie.
Pistorius woon by sy oom se huis in Waterkloof tot sy volgende hofverskyning op 4 Junie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA