Oscar se prokureur dreig met regstappe
2013-02-16 15:08
Johannesburg – Die media het in die spervuur beland nadat 'n foto van 'n huilende Oscar Pistorius gepubliseer is, wat na bewering die hof se bevel oor mediadekking oortree.
Pistorius se prokureur, Keeny Oldwage, het gesê hy sal regstappe neem teen koerante wat gekies het om die foto van sy kliënt te publiseer.
Pistorius het Vrydag sy eerste hofverskyning gemaak nadat hy na bewering sy vriendin, Reeva Steenkamp, Donderdag by sy huis in Pretoria geskiet het.
Die foto, wat Saterdag in 'n koerant gepubliseer is, wys Pistorius in trane met sy kop in sy hande in die beskuldigdebank.
Fotograwe en kameramense is glo gesê dat hulle slegs foto's kan neem en beeldmateriaal mag opneem wanneer die landdos nie sit nie, maar die foto is glo geneem terwyl die hof in sitting was.
Intussen het Pistorius se familie gevra dat die polisie toegelaat word om die saak sonder inmenging te ondersoek.
In 'n verklaring wat Vrydag uitgereik is het die familie die moordklag teen Pistorius in die "sterkste moontlike terme" ontken.
Pistorius sal Dinsdag weer in die hof verskyn om aansoek om borgtog te doen.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA