Oscar se huis lankal in die mark
2013-02-19 09:39
Johannesburg – Die spoghuis in die Silver Woods-landgoed in die ooste van Pretoria waar Oscar Pistorius se vriendin, Reeva Steenkamp, gesterf het, is al sedert 2011 in die mark, berig Beeld.
Ina Laubscher, ’n eiendomsagent van Pam Golding-eiendomme, het gister bevestig dié huis was in September 2011, toe die verkoop van die huis haar verantwoordelikheid geraak het, al maande lank in die mark. Die vierslaapkamerhuis se koopprys is R6,5 miljoen.
“In die huidige mark is dit maar moeilik om so ’n duur huis verkoop te kry,” sê Laubscher.
Sy sê sy weet nie hoekom Pistorius die huis in die mark gesit het nie, maar dat sy nooit die idee gekry het hy is haastig om dit verkoop te kry nie.
“Daar was al baie keer mense wat belang gestel het om die huis te koop en na die huis wou gaan kyk, maar Oscar was dikwels nie beskikbaar om die huis aan hulle te wys of om met hulle oor die prys te onderhandel nie,” sê Laubscher.
Die huis, met ’n erfgrootte van 1 045 m² en ’n vloeroppervlakte van 580 m², spog met vier slaapkamers, vier badkamers, vyf ontvangkamers, drie motorhuise en ’n swembad.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA