Oscar: Derde dag van hofdrama
2013-02-21 07:00
Pretoria – Die Paralimpiese atleet Oscar Pistorius se borgtogaansoek sal Donderdag 'n derde dag in die Pretoriase landdroshof voortduur.
Pistorius is verlede Donderdagoggend in hegtenis geneem nadat sy vriendin, Reeva Steenkamp, in sy huis by die Silver Woods-landgoed in die ooste van Pretoria doodgeskiet is.
Hy is Vrydag van moord aangekla.
Woensdag het adv. Barry Roux, vir die verdediging, die polisie se aanvanklike ondersoekverslag oor die skietery gepak.
Roux het die ondersoekbeampte, ao. Hilton Botha, daarvan beskuldig dat hy die toneel by Pistorius se huis besoedel het deur nie skoenbedekkings te dra nie. Hy het ook gesê die polisie het ook nie 'n koeëlpunt, wat in die toilet was, gevind nie.
Hy het gesê die staat se feite, dat Pistorius 'n huis in Italië het, is nie waar nie. Dit was om die staat se argument te steun dat die atleet 'n vlugrisiko is.
Die hof het ook gehoor dat nie een van die vier selfone wat in die huis gevind is, gebruik is nie en dat die polisie eers later uitgevind het van 'n vyfde selfoon. Botha het gesê Pistorius het nie die polisie ná die skietery gebel nie.
Botha het vroeër gesê die staat sal deur die verklarings van getuies en foonrekords wys dat daar 'n stryery voor die skietery was, maar die nadoodse ondersoek het getoon dat daar geen verdedigende wonde aan Steenkamp se liggaam was nie. Daar was ook geen tekens van aanranding nie.
Pistorius het Dinsdag in sy beëdigde verklaring gesê hy het 'n geluid in die badkamer gehoor nadat hy 'n waaier op die balkon gaan haal het. Hy het sy vuurwapen gaan haal en aan Steenkamp geskree sy moet die polisie bel, omdat hy gedink het daar was 'n inbreker.
Hy het toe skote deur die badkamerdeur gevuur en eers later besef sy is binne. Hy het haar toe by die trappe afgedra, waar sy gesterf.
Slotbetoë vir en teen borgtog sal Donderdag om 11:00 aangehoor word.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA