Oscar 'mag in Pta rondbeweeg'
2013-02-26 11:53
Johannesburg – Die moordbeskuldigde Paralimpiese atleet Oscar Pistorius kan op spesifieke tye op spesifieke dae in Pretoria rondbeweeg, het sy reputasie-bestuurspan Dinsdag in 'n verklaring gesê.
Pistorius mag tussen 08:00 en 19:00 Maandae tot Vrydae rondbeweeg, tussen 08:00 en 14:00 Saterdae en 06:00 en 13:00 Sondae, het Vuma Reputation Management in 'n verklaring gesê.
"Oscar Pistorius se borgtogvoorwaardes spesifiseer nie dat hy by die Brooklyn-polisiekantoor moet aanmeld nie."
Volgens die maatskappy het Pistorius by korrektiewe beamptes aangemeld.
Die maatskappy het ook sommige van die atleet se borgtogvoorwaardes in die verklaring uiteengesit. Die voorwaardes, soos verkry van hooflanddros Desmond Nair se kantoor, is as volg:
– Die nasionale vervolgingsgesag sal die aanstelling van 'n proefbeampte en korrektiewe beampte fasiliteer.
– Die proefbeampte sal 'n weeklikse verslag aan die NVG en sy regspan verskaf oor sy geestes- en emosionele toestand.
– Pistorius sal op sy eie onkoste, op versoek van die proefbeampte, dokters besoek.
– Hy sal die korrektiewe beampte in kennis stel van sy bewegings in die distrik van Pretoria voor hy enige reise onderneem.
– Hy sal toestemming van die korrektiewe beampte ontvang voor hy enige reise buite die distrik van Pretoria onderneem.
– Die korrektiewe beampte kan Pistorius versoek om hom by 'n vooraf bespreekte plek te besoek om enige reisreëlings te koördineer.
– Die korrektiewe beampte sal hom op 'n billike tyd van die dag of nag besoek om van sy welstand te verneem en te verseker hy gehoorsaam die voorwaardes.
– Pistorius moet 'n selfoonnommer aan die proef- en korrektiewe beampte verskaf waarop hy enige tyd van die dag of nag beskikbaar sal wees.
Die ster-atleet word daarvan beskuldig dat hy sy vriendin, Reeva Steenkamp, op Valentynsdag doodgeskiet het. Hy is verlede Vrydag borgtog van R1 miljoen toegestaan.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA