Oscar gaan huis toe
2013-02-22 16:24
Video - Oscar se afrigter gesels
Ampie Louw, Oscar Pistorius se afrigter, het gesê indien die atleet se borgtogaansoek suksesvol is, sal hy hom weer op die atletiekbaan wil sien.
KYK
Johannesburg – Die internasionaal bekroonde atleet Oscar Pistorius is Vrydag borgtog toegestaan in die Pretoriase landdroshof.
Die Paralimpiese ster word daarvan beskuldig dat hy sy vriendin, die model Reeva Steenkamp, verlede Donderdag in sy huis in die ooste van Pretoria doodgeskiet het.
"... ek het tot die gevolgtrekking gekom dat die beskuldigde bewys het dat hy vrygelaat kan word op borgtog," het Nair gesê.
Talle lede van die plaaslike en internasionale media het die stampvol hofsaal volgepak, en 'n regstreekse uitsending met klank van die uitspraak is op televisie en die internet uitgesaai.
Hooflanddros Desmond Nair se uitspraak het begin met 'n verduideliking van die motivering vir sy besluit om toe te laat dat Pistorius by die Brooklyn-polisiekantoor aangehou word. Hy het gesê daar was 'n moontlikheid dat die borgtogaansoek met verskeie dae vertraag sou word as dit nié die geval was nie.
Nair het die verdediging se saak opgesom, en onder andere verwys na die verskeie redes waarom Pistorius se verteenwoordigers aangevoer het dat hy nie 'n vlugrisiko is nie. Dié redes sluit sy internasionale status as topatleet in.
Die landdros het daarna 'n opsomming van adv. Gerrie Nel, staatsaanklaer, se saak teen Pistorius voorgelees. Hy het verwys na Nel se argument dat Pistorius 'n vlugrisiko is omdat hy onder andere glo eiendom in Italië besit. Nair het ook spesifieke besonderhede oor die voorlopige forensiese ondersoek uitgelig, insluitend 'n opsomming van die toestand waarin die toneel gevind is.
Ao. Hilton Botha, die ondersoekbeampte wat vir die staat getuig het en intussen van die saak onttrek is, se getuienis was ook in die kollig. Nair het 'n rits foute genoem wat deur Botha gemaak is, en hom skerp gekritiseer vir die manier waarop hy bewyse ingesamel het.
"Hy, wat die polisiebeampte op die toneel was, het versuim om... bewyse in te samel wat sou toon dat die aansoeker 'n oorsese bankrekening het – wat 'n belangrike aspek is wat ek sou oorweeg in verband met die vraag of die beskuldigde 'n vlugrisiko is," het Nair gesê.
Die landdros het ook benadruk dat daar geen ooggetuies was nie, en dat dít die insameling van bewyse veel belangriker maak.
"Die enigste persoon wat weet wat daar gebeur het, is die beskuldigde," het Nair gesê.
Hy het voorts gesê hy het probleme met sommige besonderhede in die verklaring wat Pistorius vroeër ingedien het.
"Daar is onwaarskynlikhede wat verken moet word.
"Die verdediging het nie daarin geslaag om te bewys dat daar 'n swakheid in die staat se saak is nie," het Nair bygevoeg, maar ook gesê die staat het nie daarin geslaag om te bewys dat Pistorius werklik sal vlug nie.
"Die staat... kan ook nie bewys dat sy saak so sterk en waterdig is dat die beskuldigde moet dink hy het geen ander opsie as om te vlug nie."
– Volg Nuus24 op Twitter
- Nuus24