Oscar 'het geweet dit is Reeva' – polisieman
2013-02-20 12:38
Pretoria – Die Paralimpiese atleet Oscar Pistorius het geweet hy skiet op sy vriendin, Reeva Steenkamp, die oggend toe die model in sy huis gesterf het, het die Pretoriase landdroshof gehoor.
"Ek glo hy het geweet sy was in die badkamer en hy het vier skote in die badkamer afgevuur en haar doodgeskiet," het ao. Hilton Botha, ondersoekbeampte, getuig.
Botha het reageer op vrae van adv. Gerrie Nel, staatsaanklaer, wat Pistorius se borgtogaansoek teenstaan.
Pistorius het Dinsdag in 'n beëdigde verklaring gesê hy het gedink hy skiet op 'n inbreker.
Steenkamp is vroeg op Valentynsdag in Pistorius se huis in die ooste van Pretoria doodgeskiet.
Botha het gesê getuies sal getuig dat 'n vrou geskree het, skote gehoor het en dat die ligte in Pistorius se huis aangeskakel was.
"Nadat hy skote gehoor het, het hy gesien die ligte is aangeskakel," het Botha van een van die getuies gesê.
"Hy het toe 'n vrou hoor skree en nóg skote het afgegaan."
– Volg Nuus24 op Twitter