Oscar 'het 7 m geloop om Reeva te skiet'
2013-02-19 10:16
Pretoria – Die borgtogaansoek van die moordbeskuldigde Oscar Pistorius het Dinsdag kort voor 10:00 in die Pretoriase landdroshof begin.
Nadat Pistorius uit die aanhoudingselle gebring is, het adv. Gerrie Nel, staatsaanklaer, onmiddellik begin met die eerste amptelike inligting van wat na bewering die dood van Pistorius se vriendin, Reeva Steenkamp, veroorsaak het.
"Daar is objektiewe feite wat nie betwis word nie," het Nel gesê.
Nel het in die hof aangevoer dat vier skote afgevuur is, waarvan drie Steenkamp getref het. Die staatsaanklaer het aan die atleet gesê hy het 'n ongewapende, onskuldige vrou doodgeskiet.
Volgens Nel verbind 'n gang die badkamer en slaapkamer. Hy het verder gesê die badkamerdeur was gesluit, omdat dit van buite opgebreek was.
Nel het gesê moord met voorbedagte rade sluit in of die beskuldigde sy dade oorweeg het en nie bloot vooraf beplan het nie.
Die staatsaanklaer het verder gesê Pistorius het nadat hy sy bene aangesit het, 7 m geloop om Steenkamp te gaan skiet.
Nel het gesê Pistorius se eie weergawe bewys hy het doelbewus 'n vuurwapen gevat en badkamer toe gestap om iemand te skiet. Hy het gesê selfs op Pistorius se weergawe van 'n inbreker, is hy steeds skuldig aan moord met voorbedagte rade, omdat hy opgestaan, na die badkamer geloop en 'n inbreker geskiet het wat nie gewapen is nie.
Hy het gesê as Pistorius gedink het dit is 'n inbreker, sou dit steeds vreemd wees vir 'n inbreker om homself in die badkamer toe te sluit.
"Daar is geen moontlike bewyse om sy weergawe van 'n inbreker te staaf nie," het Nel gesê.
Steenkamp, wat verlede week gesterf het, het tussen 17:00 en 18:00 Woensdagaand by Pistorius se huis opgedaag.
Nel het gesê Steenkamp se oornagsak en 'n sakkie met grimering is gevind.
Volgens Nel is Steenkamp se lyk toe by die trappe afgedra, waarna Pistorius aan 'n vriend gesê het hy het Steenkamp vir 'n inbreker aangesien.
Die landdros het Pistorius gevra of hy alles verstaan, waarna hy "ja" geantwoord het.
Pistorius is verlede Donderdag in hegtenis geneem nadat Steenkamp vroegoggend in sy huis in die ooste van Pretoria doodgeskiet is. Hy het Vrydag vir die eerste keer in die hof verskyn.
– Volg Nuus24 op Twitter