Oscar bid, huil in sel – pastoor
2013-02-18 10:04
Pretoria – Die Paralimpiese kampioen Oscar Pistorius het die meeste van die naweek gebid, gehuil en besoeke van familielede en vriende ontvang, berig Pretoria News.
"Hy het net gehuil," het past. AJ Wilson van die Noord-Kaap Sondag kort ná sy besoek aan die atleet by die Brooklyn-polisiekantoor se aanhoudingselle gesê.
Wilson het kort ná 08:00 die selle verlaat en kommentaar gelewer oor die onversoenlike geaardheid van die mens.
"Ons kan 99% van die dinge in ons lewe reg doen en as ons net een fout maak, onthou almal. Ons het gebid en God om vergifnis gevra."
Wilson het gesê hy het ’n opdrag van die Heilige Gees gekry om vir Oscar te kom bid.
“Ek en my dogter, Sarah-Lee, het Oscar se hande vasgehou terwyl ek vir hom gebid het.”
Past. Bert Pretorius van die 3C-Kerk in Centurion het ook later by die polisiekantoor opgedaag, maar het gesê die situasie is "te sensitief om kommentaar te lewer".
Die atleet se agent, Peet van Zyl, het gesê Pistorius het oorweldigende steun van aanhangers oor die wêreld heen ontvang.
Vriende, familie, sy prokureur en geloofsleiers het Pistorius die afgelope naweek besoek.
Plaaslike en internasionale media het die naweek buite die Brooklyn-polisiekantoor gekamp met die hoop om 'n onderhoud met die familie en Pistorius se prokureur te kry. Nie een van die vriende wat Pistorius besoek het, het die media te woord gestaan nie.
Kenny Oldwage, Pistorius se prokureur, het kort voor 17:00 by die polisiekantoor opgedaag. Hy wou nie die media te woord staan of lig werp oor bewerings wat in sommige Sondagkoerante gemaak is nie.
Pistorius sal tot Dinsdag by die polisiekantoor aangehou word, wanneer sy borgtogaansoek in die Pretoriase landdroshof aangehoor sal word.
Hy word daarvan beskuldig dat hy sy vriendin, die model, Reeva Steenkamp, verlede Donderdag in sy huis doodgeskiet het.
– Lees meer hier
– Volg Nuus24 op Twitter