Oscar: Wêreld wonder oor masjiengeweer
2013-02-15 07:00
Fotogalery - Tragedie by Oscar se huis
klik op klein foto bo om groter prentjie te sien
Kaapstad – Verskeie Suid-Afrikaanse dagblaaie en ook internasionale bronne het Vrydag die fokus geplaas op die Paralimpiese atleet Oscar Pistorius se klaarblyklike voorliefde vir vuurwapens.
Beeld het verwys na stukke wat geskryf is deur profielskrywers van onderskeidelik The New York Times en die Britse Daily Mail, wat vertel het hoe Oscar onder andere met 'n masjiengeweer langs sy bed geslaap het.
Michael Sokolove van The New York Times het in ’n artikel onder die opskrif “The Fast Life of Oscar Pistorius” vertel hoe Pistorius hom destyds na ’n skietbaan geneem het, waar hy sy voorliefde vir vuurwapens duidelik gestel het.
“Pistorius was ’n goeie afrigter. Ek het ’n paar kolskote gehad en dit het hom vreeslik opgewonde gemaak.”
In dié stuk vertel Sokolove volgens The Star ook hoe Pistorius een aand dadelik na 'n vuurwapen gegryp het toe 'n alarm in sy huis afgegaan het.
'n Artikel in die Daily Mail, wat geskryf is deur die joernalis Jonathan McEvoy, het onder die opskrif “Inside Oscar’s bedroom: One cricket bat, baseball bat, revolver and machine gun” vertel hoe Pistorius 'n pistool en masjiengeweer langs sy bed bêre.
'n Twiet van Pretorius verlede jaar het het ook die aandag getrek: “Daar is niks soos om by die huis te kom terwyl die wasmasjien aan is en die geluid vir ’n inbreker te misgis nie. Ek was oorgehaal vir ’n geveg in die spens,” het hy op 27 November van sy BlackBerry af getwiet.
Pistorius is tans in polisie-aanhouding, en sal Vrydag na verwagting in die Pretoria-landdroshof verskyn.
– Lees hier meer.
– Volg Nuus24 op Twitter.