Oscar, Reeva se vriende 'stomgeslaan'
2013-02-15 11:35
Johannesburg – 'n Vriendin van die atleet Oscar Pistorius en sy vermoorde vriendin, Reeva Steenkamp, het Vrydag gesê hulle vriendekring is "stomgeslaan" oor die nuus van haar dood by sy huis.
"Ek ken Oscar al jare lank en ek het Reeva vir 'n lang tyd geken, maar nie goed nie. Ek het net 'n paar keer saam met haar gewerk," het die aktrise Vanessa Haywood in 'n onderhoud aan SAfm gesê.
"Ek is absoluut geskok; heeltemal geskok en sprakeloos. Dit is moeilik om 'n opinie te vorm.
"Ek het Oscar slegs as 'n ongelooflik goedhartige, sagte en vriendelike siel geken. My medelye is met Reeva se familie."
Haywood het gesê sy het nog nooit 'n "gewelddadige of aggressiewe" kant van Pistorius gesien nie.
"Ek weet eerlikwaar nie wat om te dink of om te sê nie. Dit is absoluut skokkend. Ek kan dit nie glo nie.
Op die vraag oor wat ander vriende sê, het sy geantwoord: "Almal sê maar dieselfde ding. Almal in die sport-, rolprent- en modelbedryf is eintlik 'n hegte gemeenskap. Ons almal ken mekaar.
"Almal sê maar eintlik dieselfde ding – dat Reeva 'n wonderlike vrou was; goedhartig en dierbaar, en Oscar ook.
"Hulle was gelukkig in die verhouding, jy weet, alles was reg. Tussen ons vriende is almal ongelooflik geskok."
Op die vraag oor sy liefde vir vuurwapens, soos in die plaaslike en internasionale media berig word, het Haywood gesê: "Ek weet dit van hom. Ek het gedink dit was 'n stokperdjie meer as enigiets anders, hy het ook 'n vuurwapen vir beskerming gehad. Ek bedoel Suid-Afrika is nie die veiligste plek in die wêreld nie.
"Maar ek het nie geweet hy slaap met 'n vuurwapen langs sy bed nie."
– Volg Nuus24 op Twitter