Oscar: Polisie het nog nie foonrekords
2013-02-21 12:58
Pretoria – Die polisie het nog nie selfoonrekords van Oscar Pistorius en sy vriendin, Reeva Steenkamp, ontvang nie, het ao. Hilton Botha, ondersoekbeampte, Donderdag tydens die atleet se borgtogaansoek gesê.
"Ek het gedink dit sal aan my oorhandig word, maar dit was nie," het Botha aan hooflanddros Desmond Nair in die Pretoriase landdroshof gesê.
Botha het Donderdag 'n oggend van omstredenheid beleef nadat dit aan die lig gekom het dat hy teregstaan op sewe aanklagte van poging tot moord.
Nair, wat Botha na die hof laat roep het, het hom deur 'n opsomming van die aanvanklike bewyse geneem.
Hy het gesê daar was 'n gebrek aan dringendheid om die rekords te verkry.
Botha het gesê die mense aan wie hy die selfone gegee het, sou hom in kennis gestel het indien daar enigiets belangrik op was, maar hulle het nie.
Nair het aanhou vra hoekom dit nie gedoen is nie.
Pistorius word daarvan beskuldig dat hy Steenkamp vermoor het.
Die hof het Woensdag gehoor dat vier selfone, wat vir 'n lang tyd nie gebruik is nie, op die toneel gevind is. Die polisie het later uitgevind van 'n vyfde selfoon.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA