Oscar: Ondersoekbeampte dalk geskors
2013-02-21 10:00
Pretoria – 'n Interne ondersoek sal gedoen word na die aanklagte teen ao. Hilton Botha, het 'n polisiewoordvoerder Donderdag aan die eNCA-nuuskanaal gesê.
Neville Malila, polisiewoordvoerder, het gesê die ondersoek na Botha kan dalk lei tot sy skorsing.
Botha is die ondersoekbeampte in die Oscar Pistorius-moordsaak.
Die aanklagte hou verband met 'n skietvoorval wat plaasgevind het terwyl drie polisiebeamptes, insluitend Botha, na bewering dronk was. Botha, wat die polisie-ondersoek lei na die skietery wat op Valentynsdag in Pistorius se huis plaasgevind het, en die twee ander beamptes sal in Mei in die hof verskyn, het Malila bevestig.
"My bloed is nooit ná die skietery vir alkohol getoets nie. Ek was nie dronk nie," het Botha Donderdagoggend gesê.
"Ons het probeer om 'n tweede verdagte in hegtenis te neem in verband met 'n moord by 'n kantoorgebou. Die taxi het probeer om ons van die pad af te stoot. Ons het geskiet."
Malila het gesê die saak is na die direkteur van openbare vervolging gestuur nadat die aanklagte teruggetrek is.
"Die direkteur het ons eers gister [Woensdag] in kennis gestel dat hy aangekla word."
Die nasionale vervolgingsgesag het aan Eyewitness News bevestig dat die aanklagte op 4 Februarie heringestel is.
– Volg Nuus24 op Twitter