Orrelis sterf voor gemeente in kerk
2011-02-10 17:00
Johannesburg – ’n Orrelis en bekende in onderwyskringe in die Vaaldriehoek het tydens ’n erediens voor geskokte gemeentelede agter die kerkorrel gesterf.
Die laaste note van die “Aandgesang” het Sondagoggend nog in die NG kerk Sentraal in Vanderbijlpark gehang toe Raymond Blignaut (62) skielik agteroor geval het.
Hy het ’n massiewe beroerte gehad en is onmiddellik dood. Sy roudiens is Woensdagmiddag in dieselfde kerk gehou. Hy is privaat veras.
Blignaut was ’n afgetrede onderwyser, maar het weer ’n pos by die Laerskool Kollegepark aanvaar, waar hy onder meer in Afrikaans en musiek klasgegee het. Hy was Vrydag nog op sy pos.
Sondag was doopdag, maar ds. Johan Dorfling het die diens ná Blignaut se dood afgestel. Van die gemeentelede was erg ontsteld en moes berading ontvang.
Blignaut was volgens mnr. Koos Stander, ’n vriend van 50 jaar, 40 jaar lank onderwyser in Vanderbijlpark en ’n geliefde en gerespekteerde mens in onderwyskringe.
Hy het die orrel jare lank in verskeie kerke gespeel.
Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld