Orkes skuld lede minstens R2 milj.
2012-11-16 10:22
Johannesburg – Die Johannesburgse Filharmoniese Orkes (JPO) skuld sy personeellede en musikante ‘n minimum van R2,2 miljoen se salarisse, het The Star berig.
Die orkes het Donderdagaand sy laaste uitvoering van die seisoen in Parktown, Johannesburg, gehou.
Ondersteuners van die orkes het by die konsert gehoor salarisse vir September en Oktober is steeds agterstallig, terwyl 75% van Augustus se salarisse betaal is.
“Ons maak staat op mekaar om te oorleef. Ons het partykeer nie eers petrol om oefeninge by te woon nie, maar ons maak 'n plan,” het een van die musikante, wat anoniem wou bly, aan die koerant gesê.
Mediabronne het vroeër vanjaar berig die orkes het begin om ‘n reddingsplan te onderneem ná maande se finansiële verknorsing.
Die JPO maak hoofsaaklik staat op befondsing deur die nasionale loteryraad en die departement van kuns en kultuur, maar probleme in dié sektore bedreig nou die orkes se bestaan.
Eyewitness News het vroeër berig Shadrack Bokaba, direkteur van die orkes, sê meer as 50 mense kan hul werk verloor indien die JPO nie spoedig befondsing kry nie.
Volg Nuus24 op Twitter