Opwinding, senuwees vir eerste skooldag in Gauteng
2012-01-18 10:00
Johannesburg – Leerders se emosies was Woensdag ‘n kombinasie van senuwees en opwinding met Gautengse skole wat hul deure vir 2012 heropen het.
“Ek is ‘n bietjie op my senuwees,” het ‘n gr 8.-leerder wat in haar ma se motor buite die Roosevelt Hoërskool gesit het, gesê.
Sy droom daarvan om eendag ‘n algemene chirurg te wees.
Die meisie se ouer suster, wat verlede jaar haar matriekjaar aan dieselfde skool voltooi het, het raad vir haar suster gehad: “Ek het vir haar gesê sy moet van die eerste dag af hard werk”.
“Baie mense speel rond in hoërskool, maar jy moet regtig van die begin af begin hard werk.”
Matrikulante aan die Roosevelt Hoërskool het gesê hulle is “baie opgewonde” om terug te wees en is vasberade om hard te werk in die aanloop tot hul finale eksamens.
By Risidale-laerskool het ‘n 10-jarige gr. 5-leerder gesê sy is bly om terug te wees by die skool en dat sy opgewonde is om nuwe dinge te leer.
Aangesien sy slegs terugkeer ná die vakansie en nie ‘n nuwe leerder by die skool is nie, is sy nie regtig op haar senuwees nie.
Nóg ‘n meisie met ‘n groot rugsak het saam met haar ma by die skoolhekke ingestap.
“Ons moet die huis baie vroeg verlaat, twee taxi’s neem en sowat 15 minute loop om betyds hier te kom,” het haar ma gesê.
“Goeie opvoeding is die belangrikste ding wat jy jou kind kan gee,” het sy gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA