Opveiling van polisiebote ondersoek
2012-12-23 14:43
Johannesburg – Patrolliebote wat aanvanklik vir die polisie bedoel en opgeveil is, word ondersoek, het die polisie Sondag gesê.
"Die kwessie is nou in die regsproses en ek kan veel sê oor wat ons verloor het of nie," het Lindela Mashigo, polisiewoordvoerder, gesê.
Die Sunday Times het berig dat belastingbetalers se geld 'n deposito van R10 miljoen befonds het om 'n nuwe vloot van patrolliebote te bou. Dié bote is egter opgeveil.
Die polisie het in Januarie 2007 beveel dat die bote gebou word om sy watervleuel te versterk.
Die tender van R32 miljoen om die bote te bou, is aan die Kaapse maatskappy Eraco toegeken. Dié maatskappy het later 'n aansoek om likwidasie ingedien en die balju van die hof het beslag gelê op die bote.
Mashigo het Sondag gesê die "hofproses sal bepaal of ons ons geld gaan terugkry of nie. Ons het nie geweet die maatskappy gaan aansoek doen om likwidasie nie".
Volgens die koerant het die polisie nie in 2010 op die veiling gebie nie.
KND Naval Design, 'n Kaapse maatskappy, het die halfgeboude vaartuie op 'n veiling vir R10 miljoen opgeraap.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA