Oproepe wys Oscar 'gee om'
2013-02-21 15:08
Pretoria – Die feit dat Oscar Pistorius sy vriendin, Reeva Steenkamp, by die trappe afgedra en om hulp geroep het, wys positiewe stappe om haar lewe te red, het sy regsverteenwoordiger, adv. Barry Roux, Donderdag in die Pretoriase landdroshof gesê.
Die feit dat hy die landgoedbestuurder, Johan Stander, en Netcare-nooddienste gebel het, het ook beteken hy het probeer om haar lewe te red.
Roux het slotbetoë gelewer in Pistorius se borgtogaansoek. Pistorius word daarvan beskuldig dat hy Steenkamp by sy huis in die ooste van Pretoria vermoor het.
Dit is ook "bespiegeling op sy beste" dat daar dalk 'n stryery was, het Roux gesê.
Die rede vir die stryery is nie bekend nie en die teorie van die stryery is 'n teken dat die staat desperaat is.
Roux het vroeër gesê om in 'n veiligheidskompleks te woon, maak nie 'n persoon immuun teen misdaad nie.
"Ongelukkig is dit nie Suid-Afrika se bes bewaarde geheim nie: misdaad is nie beperk tot onbeveiligde gebiede nie."
Om in 'n veiligheidskompleks te woon, draai nie die skaal in die staat se guns nie, het Roux verder gesê.
"Dit was 'n neutrale faktor."
– Volg Nuus24 op Twitter