Oprah-matrone onskuldig
2010-10-11 18:47
Johannesburg - Die voormalige matrone van die Oprah Winfrey Leadership Academy for Girls wat daarvan aangekla is dat sy jong meisies seksueel aangerand het, is Maandag by die landdroshof op Sebokeng vrygespreek op dié aanklagte.
“Sy is onskuldig bevind op al die aanklagte,” het die aanklaer, Etienne Venter, gesê.
Tiny Virginia Makopo het 14 aanklagte wat verband hou met die onsedelike aanranding van ses meisies en die aanranding van ‘n kollega teen haar gehad. Die aanklagte het onsedelike aanranding, aanranding, die uitlok van ‘n minderjarige om ‘n onsedelike daad uit te voer en verbale mishandeling ingesluit.
Winfrey het Maandag in ‘n verklaring haar teleurstelling met die uitspraak uitgespreek.
“Ons het hierdie kindermolestering-verhoor in Julie 2008 begin. Meer as twee jaar later is ek diep teleurgesteld met die uitslag van die verhoor.
“Ek sal vir altyd trots wees op die nege meisies wat moedig getuienis gelewer het en die oortuiging gehad het om gehoor te word.
“Die personeel van die skool is toegewyd om ‘n opvoedingsomgewing van koestering daar te stel sodat al ons meisies kan aanhou om te blom. En hulle gedy inderdaad,” het sy gesê.
Winfrey het haar dankbaarheid aan Venter en sy span, sowel as die Suid-Afrikaanse polisie, uitgespreek vir hul pogings om geregtigheid te laat geskied.
Heelwat van die getuienis in die verhoor het gekom van leerlinge wat weens hul ouderdom agter geslote deure getuig het.
Makopo is in November 2007 in hegtenis geneem, kort ná Winfrey amptelik die skool vir meisies van agtergeblewe gemeenskappe geopen het.
Venter het gesê die staat sal die saak nie verder voer nie.
- SAPA