Opposisiepartye stel koalisie bekend
2012-09-28 17:31
Durban – Opposisiepartye het Vrydag ‘n Koalisie teen Korrupsie in Durban bekendgestel en moedig kiesers aan om die wetsontwerp op die beskerming van staatsinligting teen te staan.
Party-leiers sê die regerende ANC beplan om die wetsontwerp te gebruik om beriggewing oor korrupsie te onderdruk.
Die voorgestelde wetsontwerp is soortgelyk aan wette wat die apartheid-regime gebruik het om sy kritici stil te maak, het Mosiuoa Lekota, leier van die Congress of the People, gesê.
“Die plundering van die staatskas moet tot 'n einde kom,” het Kenneth Meshoe, ACDP-leier, aan ondersteuners by die Pinetown Burgersentrum gesê.
Die Vryheidsfront Plus, Demokratiese Alliansie, Inkatha Vryheidsparty, Azanian People's Organisation (Azapo), die Verenigde Demokratiese Beweging en die United Christian Democratic Party (UCDP) was ook by die geleentheid.
Meshoe sê die ANC is nie onoorwinlik nie en sal vervang word.
“Ons wil ‘n nuwe regering van integriteit hê.”
Lekota sê as daar nie eenheid onder die opposisiepartye is nie, sal daar geen geleentheid wees “om ‘n duik in die regerende party” te maak nie.
Hy sê die bekendstelling van die koalisie en daaropvolgende vergaderings oor die land is daarop gemik om vir Suid-Afrikaners te wys dat eenheid moontlik is.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA