Opposisie wen veld in stryd oor inligtingswet
2011-07-30 09:50
Kaapstad – Opposisiepartye het gister ’n paar treë vorentoe gegee wat die omstrede inligtingswetsontwerp betref toe die ANC ingestem het om voorstelle te oorweeg oor die beskerming van diegene wat geheime inligting in die openbare belang bekend maak.
Die parlementêre ad hoc-komitee gemoeid met die Wetsontwerp op die Beskerming van Inligting het gister verder beraadslaag oor die inhoud daarvan.
Lluwellyn Landers (ANC) het wel vasgeskop teen die DA, ACDP en IVP se voorstelle dat joernaliste hulle moet kan beroep op die verweer dat inligting in die openbare belang is. Volgens hom is “die media nie verhewe bo die reg nie”.
“As die media geheime inligting bekom, behoort hulle dit terug te neem na die owerhede en dan te versoek dat dit gedeklassifiseer moet word,” het hy gesê.
“Die owerhede wat met die klassifisering gemoeid is, sal dan die status van die inligting moet heroorweeg en as die media nie daarmee te tevrede is nie, is daar ’n appèlproses wat gevolg kan word,” het hy bygevoeg.
Dr. Mario Oriani-Ambrosini (IVP) het in reaksie daarop gesê dit het niks uit te waai met die “regte van die media” om inligting te bekom nie. Dit is alle Suid-Afrikaners se reg om toegang tot inligting te hê wat in die openbare belang is.
Die ANC het onderneem om voorstelle van die opposisie te oorweeg wat betref die beskerming van mense wat geklassifiseerde inligting bekend maak.
David Maynier (DA) het die ANC se bereidwilligheid hiertoe verwelkom.
Hy het aan die hand gedoen die wetsontwerp moet dit duidelik stel dat dit nie ’n oortreding is wanneer geklassifiseerde inligting bekend gemaak word wat andersins korrupsie sou toesmeer of onbevoegdheid moet wegsteek nie.
Steve Swart (ACDP) het ’n beroep gedoen op die komitee dat daar groter beskerming vir openbaarmaking moet wees. “Niemand behoort skuldig bevind te word aan ’n oortreding as die openbare belang swaarder weeg as geheimhouding nie.”
Die ANC het ook gister ingestem dat hy oorweging sal skenk aan die skrapping van art. 43 van die wetsontwerp, wat die openbaarmaking van inligting wat met staatsveiligheid verband hou verbied.
Menseregtegroepe was bekommerd oor dié artikel, omdat daar gevrees is dat die regering dan enige kwessie, bevoorbeeld dienslewering, geheim kon hou deur aan te voer openbaarmaking sal ’n bedreiging vir staatsveiligheid inhou.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger