Opposisie verwelkom Mandela-banknote
2012-02-11 23:02
Johannesburg – Die DA het pres. Jacob Zuma se aankondiging Saterdag dat oudpres. Nelson Mandela se gesig op 'n nuwe reeks banknote sal verskyn, verwelkom.
"Dit is 'n gepaste herinnering aan...Mandela se bydrae tot die geboorte van demokrasie in Suid-Afrika, en sy aansienlike positiewe impak op nasionale versoening," het Tim Harris, DA-LP, in 'n verklaring gesê.
Harris het egter ook gesê dis jammer dat dié aankondiging gedoen is op 'n manier wat onsekerheid op finansiële markte veroorsaak het.
Die gebrek aan besonderhede oor die aankondiging wat pres. Zuma sou maak, het die rand vroeër Saterdag met sowat 2,5% teen die dollar laat tuimel.
Handelaars was bekommerd dat die Sentrale Bank van Afrika se grootste ekonomie 'n drastiese beleidverandering of aanstelling sal maak terwyl die markte gesluit is.
Ná aankondigings van bankbeamptes, wat gesê het dat die nuus nie oor rentekoerse of bedankings sal wees nie, het die rand vinnig herstel.
Die aankondiging sou aanvanklik om 13:00 gemaak word, maar is toe na 15:00 verskuif.
Gill Marcus, goewerneur van die Reserwebank, het om verskoning gevra vir die onsekerheid wat veroorsaak is. Harris het egter benadruk dat die Reserwebank, die nasionale tesourie en die presidensie in die toekoms meer "sensitief" moet wees oor die impak wat sulke aankondigings kan hê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA