Opposisie kap DA oor 'leë beloftes'
2011-02-23 08:12
Kaapstad - Die provinsiale rede wat Helen Zille, Wes-Kaapse premier, Vrydag gelewer het, het Dinsdag in die provinsiale parlement onder skoot gekom, maar nie sonder dat die DA ook sy steke na die opposisie ingekry het nie.
Die provinsiale rede is in ’n debat hieroor uit opposisiegeledere bestempel as onder meer leë beloftes en dromery.
Pierre Uys, ANC-hoofsweep in die provinsiale parlement, het gesê Zille het in haar rede niks gesê oor vordering wat gemaak is en wat die stand van die provinsie is nie.
“Dit is eerder ’n dokument met leë beloftes.”
Uys het gesê ’n groot bohaai is gemaak oor die sogenaamde “dashboard-stelsel” wat die DA sou implementeer.
Dit sou provinsiale ministers, LPP’s en selfs die publiek in staat stel om dienslewering te monitor, maar nou is Zille stil hieroor, het hy gesê.
Thozama Bevu, Cope-LPP, het in haar spreekbeurt na die DA gekap omdat die party volgens haar nie armes se belange op die hart dra nie.
Sy het verwys na die uitsettings van mense in Hangberg by Houtbaai asook die kwesie oor oop toilette in Makhaza.
Zodwa Magwaza, ANC-LPP, het gesê die grootste skande vir die DA is toe hy finansiering aan nieregeringsorganisasies wat weerlose en gemarginaliseerde gemeenskappe ondersteun, gestaak het.
“En dié regering het die vermetelheid om te sê hy gee om vir armes.”
Theuns Botha, provinsiale minister van gesondheid, het in sy toespraak klem gelê op die suksesse van die DA-regering in vergelyking met die res van die provinsies.
“Ons is nie arrogant nie, maar ons verwag ’n volwasse ANC-regering om ons suksesse te erken en om beste praktyke hieruit te neem.
“Die probleem is egter dat die ANC sy siel moet verander, die manier wat hy dinge doen, sy norme en beginsels, voordat hy ’n DA-regeringsmodel suksesvol kan implementeer,” het Botha gesê.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger