Opposisie het vrae oor tekort aan detail
2012-02-10 08:02
Fotogalery - GALERY: Staatsrede 2012
klik op klein foto bo om groter prentjie te sien
Kaapstad – Politieke leiers was Donderdagaand optimisties oor pres. Jacob Zuma se aankondigings rondom infrastruktuur-gedrewe ekonomiese groei.
Helen Zille, DA-leier, het in reaksie gesê: “Dít is die rol van die staat. Ons moet nou ’n bietjie minder praat en meer doen.”
Sy het ook Zuma se planne rondom die sogenaamde gap-mark in behuising (mense wat tussen R3 500 en R15 000 verdien) as “uiters belangrik” beskryf.
Volgens Zille het Zuma nie genoeg fokus op korrupsie geplaas of ’n eerlike ondersoek oor dít wat ekonomiese groei kniehalter nie.
“Dit was te eensydig oor die positiewe en nie volledig genoeg oor die baie indringende negatiewe aspekte en wat daaraan gedoen moet word om dit te bowe te kom nie. Daar was heeltemal te min oor korrupsie, misdaad en die faktore wat ekonomiese groei kniehalter.”
Lindiwe Mazibuko, die DA se parlementêre leier, het gesê Zuma het baie gepraat oor infrastruktuurprojekte wat deur die staat gedryf sal word, maar min oor sulke projekte wat deur die private sektor gedryf word.
“Die infrastruktuurplanne, die ystererts en spoornetwerk, word verwelkom. Dit is egter onduidelik waar die geld gevind gaan word. Ek is nuuskierig om te sien hoe dit in die begroting aangespreek sal word.
“Ons is bekommerd omdat die president niks oor misdaad, korrupsie en werkskepping op ’n volhoubare wyse gepraat het nie.”
Dr. Blade Nzimande, SAKP-leier, het gesê dit is ’n baie positiewe toespraak. Dit bied konkrete planne oor infrastruktuur, wat ’n goeie dryfveer vir werkskepping is.
“Ons verwelkom ook die strenger optrede teen frontmaatskappye. Ons het nog altyd gesê een van die grootste probleme met die huidige vorm van swart ekonomiese bemagtiging is mense wat geen vaardighede het nie, maar groot tenders kry. Maatskappy sit net ’n swart gesig voor, maar baie keer is daar wit mense agter hulle wat die ware begunstigdes is.”
Patricia de Lille, Kaapstadse burgemeester, het Donderdagaand gesê Zuma “moes ’n bietjie eerliker gewees het” oor die regering se vermoëns om die wenslys te vervul.
Volgens haar is al die planne goed en wel.
“Maar het ons die kapasiteit om dit te doen? Daar is 15 000 vakante poste waarvoor begroot is en wat nie gevul kan word nie.
“Dit is teleurstellend dat hy nie meer oor korrupsie gesê het nie, want dink net hoe staan al die skelms in ’n ry vir die tenders wat gaan kom as deel van die infrastruktuurplanne.”
De Lille het dié infrastruktuurplanne verwelkom omdat dit sal help om werk te skep.
Mosiuoa Lekota, Cope-leier, het die aankondigings oor beleggings in infrastruktuur as ’n aansporing beskryf.
“Dié aankondigings is veral welkom omdat die plan blyk te wees om te belê in infrastruktuur wat ’n opbrengs sal lewer. Dit is infrastruktuur wat produktief van aard sal wees en wat vir die land winsgewend sal wees in die toekoms.”
Die leier van die VF+, Pieter Mulder, het ook die aankondigings oor infrastruktuur verwelkom.
“Dit wys ’n bietjie langtermynbeplanning. Dit gee hoop vir die toekoms. Daar was egter ’n teenstrydigheid in die toespraak. Die maatreëls wat nodig is om daardie projekte suksesvol te maak, is nie aangekondig nie. Om dit te laat werk is die beste moontlike maatskappye en mense nodig.”
Geen teenkorrupsiemaatreëls is ingebou nie, wat dit ’n “paradys” vir tenderpreneurs kan maak, het Mulder gesê.
Bantu Holomisa, UDM-leier, het ook gesê Zuma se planne is goed, maar hy sou meer besonderhede in die uiteensetting daarvan wou hê.
Eerw. Kenneth Meshoe, ACDP-leier, het die spoorwegplanne asook die beoogde universiteit vir Mpumalanga verwelkom.
“Die paaie in daardie provinsie is van die slegste in die land. Mense in Mpumalanga moet ook tans groot afstande aflê om universiteite in ander provinsies by te woon. Dit is waarom dit ’n positiewe stap is.”
Zuma se planne
- Spoor- en watervoorsieningsprojekte in Limpopo, met die fokus op die Waterberg en die platinumryke Steelpoort-gebied ter uitbouing van mynboubedrywighede.
- Van die Waterberg- en Steelpoort-gebied sal spoorlyne na Mpumalanga loop, onder meer om die vervoer van steenkool op die provinsie se voosgeryde paaie te verminder.
- Die oostelike mineraalryke gebiede van Noordwes (Rustenburg, Klerksdorp, ensovoorts) sal baat vind by die uitbou van mineraalverrykingsaanlegte, en tien prioriteit-padverbindings in die provinsie gaan dringend opgeknap word.
- Die spoorlyn van Durban en Pinetown na Johannesburg sal verbeter word.
- Transnet sal R300 miljard vir kapitaalprojekte kan begroot, waarvan R200 miljard vir spoorlyne. Die doelwit is om sowat ’n derde meer ystererts per spoor te vervoer, onder meer deur die uitbreiding van die Sishen-Saldanha-spoorverbinding.
- Die Oos-Kaap kan ekonomies groei met die besluit om 60 miljoen ton mangaan jaarliks deur die Coega-hawe by Port Elizabeth uit te voer.
- Ekonomiese ontwikkeling van die Transkei is ook ’n prioriteit, onder meer deur die bou van ’n dam in die Umzimvuburivier.
- Besproeiingsplanne by Steelpoort, Secunda en Nkangala (Mpumalanga), sowel as die vergroting van die Clanwilliam-dam in die Wes-Kaap en die Hazelmere-dam buite Durban behoort watervoorsiening in dié gebiede te verbeter.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger