Opposisie het geen genade vir Zuma
2010-02-16 09:09
Liesl Peyper
Kaapstad - Terwyl ANC-LP’s gister bontgestaan het om die regerende party se prestasies van die afgelope 16 jaar af te rits, het opposisiepartye geen genade aan pres. Jacob Zuma en sy ontoereikende staatsrede van verlede Donderdag getoon nie.
Dr. Mathole Motshekga, ANC-hoofsweep, het Zuma geprys vir sy “helder en pragmatiese plan” om die lewensgehalte van Suid-Afrikaners te verbeter.
Athol Trollip, die DA se parlementêre leier, het egter vanuit die staanspoor onder Zuma ingeklim.
Hy wou weet of Zuma enigsins sy staatsrede voor die tyd deurgelees het en of sy raadgewers gewoon nie besef het hoe belangrik dit was om ’n buitengewone toespraak te lewer nie.
Hy het Zuma ook gewaarsku dat gewildheid in die politieke arena “soos mis voor die son verdwyn” en dat die land desperaat soek na ware leierskap.
“U eerste jaar in die amp was nouliks uitstaande en u oproep dat 2010 ’n jaar van aksie moet wees, klink hol in ons ore. Hoekom? Want ons het dit alles al vantevore gehoor.”
Mvume Dandala, Cope se parlementêre leier, het ook verwys na die talle voornemens wat Zuma in sy vorige staatsrede aangekondig het, maar wat nooit gerealiseer het nie.
“Waarom moet Suid-Afrikaners u nou glo?”
Zuma is ook nie deur die IVP-leier, Mangosuthu Buthelezi, gespaar nie. “Hou op om die intelligensie van ons mense te beledig met beloftes wat nooit verwesenlik word nie. Dit sal ook nie reggestel word deur net meer dinge te belowe nie.”
Patricia de Lille, OD-leier, het die ANC gekritiseer omdat die regerende party die elektrisiteitskrisis in die eerste plek veroorsaak het, maar dat die ANC nou finansiële voordeel daaruit trek deur middel van die frontmaatskappy Chancellor House.
Sy het gesê dit is boonop ironies dat Chancellor House die gebou was wat oudpres. Nelson Mandela en Oliver Tambo se regsmaatskappy gehuisves het.
Eerw. Kenneth Meshoe, ACDP-leier, het Zuma daarop gewys dat sý party heftig daarteen gekant was dat die staatsrede in die aand gehou is. “So iets gebeur in geen ander demokratiese land ter wêreld nie. Maar wat Donderdagaand gebeur het, was profeties”.
Meshoe het gemaan dat die regering se tyd om probleme op te los, min raak.
“Die son is besig om oor u en die ANC te sak. Maak reg ons paaie en wis armoede en werkloosheid uit, of u sal dalk nie nog ’n geleentheid hê om ’n staatsrede te lewer nie.”
- Die Burger