Opod gaan polisie ondersoek ná Lonmin-skietery
2012-08-17 22:01
Johannesburg – Die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) het aangekondig dat hy die rol van die polisie sal ondersoek in die skietery in Marikana in die Noordwes.
Moses Dlamini, woordvoerder van die direktoraat, sê al die omstandighede rakende die voorval sal ondersoek word, het RSG berig.
Dlamini sê daar is reeds gevra vir inligting oor watter polisielede en eenhede ontplooi was.
Hy sê die opdragte van die bevelvoerders sal ondersoek word en of dié opdragte uitgevoer is, het die radiostasie berig.
Pres. Jacob Zuma het vroeër op ‘n mediakonferensie gesê hy gaan ‘n kommissie van ondersoek aanstel om die voorval te ondersoek.
Altesaam 34 mynwerkers is dood toe die polisie Donderdagmiddag met skerp ammunisie op stakende werkers geskiet het.
Riah Phiyega, die nasionale polisiehoof, het Vrydag in 'n mediakonferensie die sterftesyfer bevestig. Meer as 78 mense is ook in die voorval beseer, het sy gesê.
Altesaam 259 mense is in hegtenis geneem vir aanklagte van onder andere openbare geweld, moord, poging tot moord, die besit van gevaarlike wapens en opsetlike saakbeskadiging.
Nog tien mense het die afgelope week in die gewelddadige betogings by die myn gesterf.
Sapa berig die betogings het vermoedelik te make met mededingendheid tussen die National Union of Mineworkers (Num) en die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) oor erkenningsooreenkomste by die myn. Die werkers wou ook meer betaal word.
Volg Nuus24 op Twitter