Opkikkertoetse kom vir sport by álle skole
2012-03-18 09:21
Kaapstad – Alle leerlinge wat aan skolesport deelneem, gaan binnekort aan verpligte opkikkertoetse onderwerp word.
Die departement van sport en ontspanning het die afgelope week in die parlement aangevoer wetgewing moet gewysig word om die Suid-Afrikaanse Instituut vir Dwelmvrye Sport (SAIDS) wyer magte te gee om te verseker skolesport is dwelmvry.
Tans mag die SAIDS net leerlinge toets van skole waar die beheerliggame daartoe ingestem het.
Selfs dán sleep “ryk ouers” die SAIDS gereeld hof toe wanneer hul kinders positief toets vir opkikkers omdat hulle nie persoonlik ingestem het dat hul kinders aan dié toetse onderwerp word nie.
Dit het die laaste jare tot ’n situasie gelei waar die SAIDS in “hope hofsake” gewikkel is.
Alec Moemi, direkteur-generaal van sport, het Dinsdag aan die parlementêre portefeuljekomitee oor sport gesê die gebruik van opkikkers onder leerlinge is ’n probleem en daar is ’n behoefte om integriteit in skolesport te verseker.
“Ons moet wetgewing laat wysig om dié kwessie op te klaar.
“Die regering kan nie soveel hulpbronne in skolesport en talent belê net om eindelik met 18-jarige opkikkergebruikers en sportverneukers te sit nie.
“Ons moet seker maak dat die produkte aan die einde van die waardeketting gereed is om vir nasionale sportspanne gekies te word.
“Ons kan nie sit met leerlinge wat die topvlak deur verneukery bereik en nie danksy talent nie,” het hy gesê.
Ingevolge huidige wetgewing is die SAIDS se hande afgekap as ’n skool se beheerliggaam weier dat hul leerlinge getoets word.
Dit beteken die SAIDS kan nie by enige sportbyeenkoms opdaag en lukrake opkikkertoetse op leerlinge uitvoer nie.
Die departement sal binnekort ’n wysigingswetsontwerp in die parlement ter tafel lê met ’n spesifieke klousule wat die SAIDS volmag gee om by enige skool in te stap en enige leerling te toets.
Die wetgewing sal op ál die skole in die land – openbare, private en voormalige model C-skole – van toepassing wees.
Skole gaan verplig word om vorms aan ouers en voogde te stuur waarin die ouers toestemming gee dat hul kind aan sport mag deelneem.
Dié instemming gee die SAIDS outomaties die reg om die kind vir opkikkers te toets.
Die beoogde wetswysigings sal deur die departemente van sport en basiese onderwys opgestel word.
“Die SAIDS is nie groot nie. Die instituut sal dus nooit ál die leerlinge kan toets nie, maar ons beskou dit as ’n noodsaaklike afskrikmiddel, want hulle (die verneukers) sal nooit weet waar ons volgende gaan toets nie,” het Moemi aan Rapport gesê.
Dr. Shuaib Manjra, voorsitter van die SAIDS, sê in die instituut se jongste jaarverslag die gebruik van opkikkers onder leerlinge is “?’n ernstige probleem” en dat beperkte toegang tot skole die instituut se mandaat belemmer.
Volgens hom moet leerlinge onderrig word in sportetiek en regverdige mededinging.
Luidens die instituut se jongste statistieke is professionele sportlui tussen 1 April 2010 en 31 Maart 2011 aan 2 308 opkikkertoetse onderwerp, waarvan die meeste onder rugbyspelers (507), atlete (402), fietsryers (248) en swemmers (98) was.
Tot 24 sportsterre is skuldig bevind, onder wie ses rugbyspelers, vyf gewigoptellers en vier boksers.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Rapport